GAUTENG. – ’n Gautengse nooddiens-ambulans is die jongste slagoffer van skerpgemaakte ysterpenne nadat die voertuig vroeg Saterdagoggend op die N1 deur die penne gery het en die bemanning daarna onder skoot gekom het.
Steve Mabona, woordvoeder vir die departement van gesondheid in die provinsie, sê die ambulans was omstreeks 01:30 op die N1, kort ná Phumulani-tolplaza,vanaf Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal na Jubilee-hospitaal onderweg toe die voorval plaasgevind het. Daar is stilgehou om die voertuig te ondersoek, waarna twee mans die ambulans genader en skote afgevuur het. Een personeellid het veiligheid in ’n nabygeleë gebied gaan soek, terwyl die ander een met die ambulans van die toneel af weggery het.
Die noodkommunikasiesentrum is van die voorval in kennis gestel, waarna onder meer die polisie ontbied is. Die pasiënt was stabiel en is na ‘n ander ambulans oorgeplaas en na Jubilee-hospitaal geneem. Albei EMS-personeellede het mediese ondersoeke ondergaan en die departement se werknemerswelstandsdienste bied emosionele en sielkundige ondersteuning.
Mabona sê die departement is bekommerd dat nooddienspersoneel, wat dag en nag werk om lewens te red en noodsaaklike mediese dienste te lewer, tydens hul werk aan geweld blootgestel word. Volgens die departement stel die aanvalle nie net personeel in gevaar nie, maar kan dit ook nooddienste vertraag en pasiënte wat dringend mediese hulp benodig, benadeel.
Lees meer hier onder:

