GAUTENG. – Die Gautengse departement van gesondheid waarsku gemeenskappe oor die gevare van loodblootstelling, veral vir kinders en swanger vroue. Die waarskuwing val saam met die Internasionale Week vir die Voorkoming van Loodvergiftiging, wat van 18 tot 24 Oktober onder die tema “Van opsporing tot voorkoming” gevier word. Lood is ’n giftige stof wat die liggaam deur onder meer besmette stof, verf, speelgoed en ander materiale kan binnedring. Blootstelling kan kinders se breinontwikkeling, leervermoë en groei benadeel, en die gevolge is nie altyd onmiddellik sigbaar nie.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê die departement hou jaarliks bewusmakingsveldtogte en toets onder meer speelgoed en verf, veral by sentrums vir vroeëkinderontwikkeling, om moontlike bronne van loodblootstelling te identifiseer. Die departement beoog ook om sy toetsvermoë uit te brei met die aankoop van twee loodtoetsmasjiene.
Hoewel geen gevalle van loodvergiftiging die afgelope twee jaar in Gauteng aangemeld is nie, bly voorkoming belangrik. Inwoners word aangeraai om leefruimtes skoon en stofvry te hou en kinders weg te hou van speelgoed wat moontlik lood bevat en verf wat afskilfer. Werkers wat met loodbevattende materiale werk, moet veiligheidsprosedures volg en hul besmette klere en skoene uittrek voordat hulle hul huise binnegaan.
Enigiemand wat vermoed dat hulle of hul kinders aan lood blootgestel is, of simptome ervaar wat daarmee verband kan hou, moet ’n kliniek of gemeenskapsgesondheidsentrum besoek. Moontlike bronne van loodbesoedeling kan ook by die departement se omgewingsgesondheidsdienste aangemeld word vir ondersoek.