Die Suid-Afrikaanse polisiediens moedig mense aan om nie te wag om vermiste persone aan te meld nie. As iemand verdwyn, is dit vir die polisie uiters belangrik om hul mandaat na te kom om die burgers van Suid-Afrika te dien en te beskerm. Dit is noodsaaklik om stappe te neem en onmiddellik met die ondersoek na die saak van ’n vermiste persoon te begin. Jy kan die polisie help met die rapportering van ’n vermiste persoon deur die volgende stappe te volg:
Daar is geen wagtydperk
- Daar is geen wagtydperk om ’n vermiste persoon aan te meld nie;
- Rapporteer ’n vermiste persoon onmiddellik by jou naaste polisiekantoor;
- Indien moontlik, neem ’n onlangse foto van die vermiste persoon saam;
- Gee ’n volledige beskrywing van die laaste plek waar die vermiste persoon gesien was, klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help;
- Vul vorms volledig in wat die polisie sal verskaf;
- Kry die kontakbesonderhede van die ondersoekbeampte en stuur enige addisionele inligting wat moontlik van hulp sal wees;
- As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, moet jy die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis stel.