WES-KAAP. – Dirk Kotzé, die Mosselbaai-burgemeester, doen ’n beroep op die gemeenskap om hierdie Saterdag 2 Mei ‘n fondsinsameling vir Leah-Rose by die stadsaal te ondersteun. Volgens die The Leah-Rose Story Facebook-blad-profiel het sy haar regterbeen onder die knie verloor en albei haar hande is ook aangetas. Haar linkerbeen het skade opgedoen wat daartoe gelei het dat sy ’n klompvoet (clubfoot) ontwikkel het.
Leah-Rose is gebore met amniotiese band-sindroom. Sy dra tans ’n prostetiese been wat haar help om daagliks te beweeg, maar omdat sy nog groei, moet dit gereeld aangepas of vervang word. Kotzé sê Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het reeds in 2025 saam met die provinsiale regering ondersteuning gebied wat gehelp het om haar eerste prostese te finansier, nadat die gemeenskap ook saamgestaan het.
Die geleentheid poog nou om verdere ondersteuning te mobiliseer sodat Leah-Rose se prostetiese behoeftes volhoubaar nagekom kan word soos wat sy groter word.






