KWAZULU-NATAL. – Sifiso “Coach” Malwane, ‘n mees gesoekte verdagte in verskeie ernstige misdade, is dood nadat hy tydens ’n beweerde huisroof in die Emanguzi-gebied deur die huiseienaar geskiet is. Hy is een van die berugte Malwane-broers wat deur die polisie gesoek word in verband met die moord op oorgrensmisdaadvegter, Sipho Juda Mthethwa, asook ander moorde en misdade.
Volgens kol. Robert Netshiunda het Malwane en ’n medepligtige glo Sondag met vuurwapens ’n huis in die Thengani-gebied binnegegaan en voertuigsleutels van die eienaar geëis. Die huiseienaar het egter ’n vuurwapen gegryp en teruggeskiet, waarna die verdagtes gevlug het. Malwane, ook bekend as Mlungu, is tydens die voorval gewond en het later aan sy beserings beswyk.
Die polisie het Maandag inligting ontvang oor die onwettige verwydering van ‘n liggaam wat Sondagaand plaasgevind het. Ondersoeke het bevestig dat dit die liggaam van Sifiso Malwane is. Wettige prosesse is gevolg, waartydens die liggaam opgegrawe is.
Daar word beweer dat Musa Malwane, sy broer, sy liggaam probeer verberg het. Hy word self ook vir moord en oorgrensmisade deur die polisie gesoek. Die soektog na hom duur voort en die polisie sê verdere aanklagte, wat regsverydeling insluit, kan volg. Enigiemand met relevante inligting oor waar Malwane hom bevind, word versoek om na vore te kom.





