LIMPOPO. – Lede van die Suid-Afrikaanse-weermag (SANW) het Dinsdagoggend saam met die polisie ’n gesteelde Ford Everest XLT ter waarde van sowat R940 000 uit die Limpoporivier herwin.
Luidens ‘n verklaring van kapt. Moses Semono van die SANW, het polisiebeamptes, besig met misdaadbekamping naby die grens in die Musina-gebied, gesien hoe ‘n voertuig reguit die rivier in ry. Ondersteuning is van die weermaglede gevra wat voertuigbeheerpunt-operasies op Malalaweg uitgevoer het. Weens die tyd van die aand en swak sigbaarheid is die gesamentlike operasie tot die oggend van 6 Januarie uitgestel, terwyl die misdaadtoneel oornag bewaak is.
Die voertuig is die volgende oggend met die hulp van ’n siviele maatskappy suksesvol herwin en na die polisie se bewaarplek geneem. Ná sirkulasie is vasgestel dat die voertuig op 31 Desember 2025 in Bela-Bela (Warmbad) as gesteel aangemeld is en dat dit ’n vals registrasienommer gehad het.
Kol. Dikgabane Herold Tladi, bevelvoerder van die gesamentlike taktiese hoofkwartier Limpopo, het die weermaglede vir hulle optrede geloof.





