SAN DIEGO. – ’n Golden retriever in San Diego het ’n heel ander reaksie as wat van ’n waghond verwag sou word gehad toe ’n man by sy eienaars se huis ingebreek het. Nash het die indringer glo herhaaldelik met speelgoed genader, asof hy ’n nuwe speelmaat gesoek het.
Die voorval het vroeër vandeesmaand in die Sherman Heights-gebied plaasgevind terwyl Nash se eienaars, Dante Rowley en Stephanie Calderon, op pad huis toe van Chicago was.
Die egpaar het ’n kennisgewing op hul veiligheidskameras gekry en gesien hoe ’n man ’n leer gebruik om deur ’n oop venster op die tweede verdieping van hul huis te klim.
Die man het hom volgens die beeldmateriaal redelik tuis gemaak. Hy het sy skoene en hemp uitgetrek, kos uit die yskas geëet en later gaan lê en slaap.
Intussen het Nash, ’n vierjarige golden retriever van sowat 41 kg, die man herhaaldelik genader met speelgoed in sy bek. Die hond het ook sy stert geswaai.
Die gesin het die gebeure deur hul veiligheidskameras dopgehou en die polisie gekontak. Hulle het ook op afstand toegang tot die kameras aan die polisie verskaf.
Beamptes het binne enkele minute by die huis opgedaag en ’n hommeltuig gebruik om die woning te deursoek voordat hulle binnegegaan het. Die verdagte het probeer weghardloop, maar is volgens berigte in die agterplaas in hegtenis geneem.
Nash het ook die polisiebeamptes met ’n speelding begroet.
Die verdagte is volgens die polisie in verband met huisbraak aangekla. Daar was ook ander uitstaande sake of lasbriewe teen hom.
Die hond se reaksie het intussen vrae laat ontstaan oor waarom hy nie vir die indringer geblaf of hom probeer verjaag het nie.
Die eienaars het gesê niks uit die huis gesteel is nie, hoewel die indringer kos uit die yskas geneem het en enkele buitepotte beskadig is tydens sy poging om te vlug.
Bronne: NBC 7 San Diego, Los Angeles Times