Brekende Nuus
Nuus

Groen ID-boekie se dae einde Maart 2028 verby

Foto: Nuusflits Nuus

Die groen ID-boekie sal vanaf 31 Maart 2028 nie meer as ’n geldige identiteitsdokument erken word nie. Eerste keer-aansoekers en persone ouer as 60 jaar sal steeds van die Smart ID-aansoekfooi vrygestel wees.

Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, het Donderdag dié finale datum vir die groen ID aangekondig, terwyl die departement reeds op 31 Maart 2027 die vervaardiging van die dokument sal staak. Schreiber het bekend gemaak dat 14.7 miljoen Suid-Afrikaners nog die groen boekie gebruik. 

Tydens die bekendstelling van die departement se Quantum Leap-visie by Constitution Hill in Johannesburg het die minister gesê die masjiene wat die groen ID-boekies vervaardig, sal op 31 Maart 2027 permanent afgeskakel en uitmekaargehaal word. Die oorblywende gebruikers van groen ID-boekies sal daarna ’n verdere 12 maande hê om na ’n Smart ID-kaart oor te skakel. 

Schreiber het gesê die departement sal voor 31 Maart 2027 ook die oorblywende groep genaturaliseerde burgers en permanente inwoners, asook Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland, in staat stel om Smart ID-kaarte te bekom. Volgens Schreiber is die groen ID-boek weens die papierformaat en handaangehegte foto besonder kwesbaar vir identiteitsbedrog. Hy het die voortgesette gebruik daarvan as onversoenbaar met ’n moderne samelewing beskryf.

Binnelandse Sake het dienste van deelnemende banke vir die oorskakeling na Smart ID-kaarte uitgebrei. Die departement het vroeër vanjaar gesê sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners het steeds die groen ID-boek gebruik; die jongste syfer wat Schreiber Donderdag genoem het, is 14,7 miljoen.

Bronne: SA Regering, Business Tech, SABC News