Kaapstad en dele van die Wes-Kaap kan vandag (Donderdag) steeds rekordtemperature verwag, met hittegolftoestande wat nou reeds die vierde dag ervaar word en nog tot Vrydag kan duur. Temperature kan in sommige gebiede tot in die middel 30’s en selfs lae 40’s grade Celsius styg. Die NSRI doen ’n beroep op mense om versigtig te wees wanneer hulle in en rondom water ontspan.
Volgens die SAWD moet daar tydens die versengende hitte genoegsame water gedrink word. Dra ligte klere en gebruik sonbeskerming, bly gedurende hitte-piektye binnenshuis en moet geen persoon of dier in ‘n voertuig laat nie.
Die hittegolfwaarskuwing bly vir die westelike dele van die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap, asook vir die westelike, suidwestelike en noordelike dele van die Wes-Kaap tot Vrydag van krag. In die Oos-Kaap kan warm toestande ook tot Vrydag voortduur. Volgens die weerdiensplatform Vox Weather word koeler tot selfs koue toestande in die noordoostelike dele van die land verwag, met verspreide tot wydverspreide reënbuie wat in sekere gebiede kan voorkom. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het intussen ’n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën. Swaar buie kan moontlik plaaslike oorstromings veroorsaak in die oostelike dele van Limpopo en Mpumalanga, en sterk winde kan ook voorkom. Uiters hoë brandgevaar-toestande word ook voorspel vir dele van die Noord-Kaap, asook vir gebiede langs die Weskus, Tuinroete en Kaapse Wynlande. Die waarskuwing sluit ook die Blue Crane Route-munisipaliteit in die Oos-Kaap in.
Andrew Ingram van die NSRI sê die hitte lok dikwels groot getalle mense na strande, riviere en damme, maar dit kan ook die risiko van verdrinkings verhoog as veiligheidsmaatreëls nie gevolg word nie. Hy raai swemmers aan om strande te besoek waar lewensredders aan diens is en om tussen die rooi en geel vlae te swem. Ouers en versorgers word ook gemaan om kinders voortdurend dop te hou wanneer hulle naby water speel. Mense word verder aangeraai om genoeg water te drink tydens die hitte en om nie alkohol te gebruik wanneer hulle swem of aan wateraktiwiteite deelneem nie.
Strandgangers moet ook versigtig wees vir sterk seestrome. Indien jy daarin vasgevang word, moet jy kalm bly en parallel met die strand swem totdat jy uit die stroom kan beweeg, is Ingram se raad. Mense wat riviere en damme besoek moet ook bedag wees op gladde oewers en skielike diep water. Enigiemand op ’n boot of roeitoerusting moet ’n reddingsbaadjie dra. Indien iemand in die water in nood verkeer, moet reddingsdienste onmiddellik by 087 094 9774 of van ‘n selfoon by 112 ontbied word.





