Maandagoggende op Springbok is dit vullisdag. Vroeg, voordat almal werk of skool toe gaan, word die swart sakke buite langs die pad gesit. Snaaks om te dink hoe bevoorreg jy is om iets te hê om uit te sit, want dit getuig eintlik van jou rykdom van alles wat jy die vorige week verbruik het, meestal kos. Enkellopendes het gewoonlik een sakkie, en hoe groter die huis, hoe groter die getal sakke teen die pad.
LEES MEER: Wedergeboorte van die arend – deur Bert Mostert
Soms is dit koud, soms nat, en in die somermaande skyn die son al vroegoggend genadeloos neer, veral as jy sonder bedekking is.
Ek het nog nooit ‘n vullisdag gesien waar daar nie arm mense rondloop en deur die sakke grawe nie, ongeag hoe die weer lyk. Ons kyk soms op hierdie mense neer, ek meen, wie krap in ou, vrot vullis rond? Persoonlik weet ek dat ek enigiets sal doen om nie in daai posisie te wees nie. Daar is geen werk erg genoeg om my tot daardie laagtes te dryf nie.
Maar hoekom doen hulle dit? Ongeag die rede, kan ek jou waarborg dat niemand as kind gedroom het om soggens deur ou vullissakke te grawe vir kos of dalk herwinbare materiaal nie.
Ek hoor soms mense op Whatsapp-groepe kla oor die vulliskrappers, en dat hulle verwilder moet word. Dink jy nie die lewe is swaar genoeg vir so ‘n persoon, dat jy sy werk nog moeiliker moet maak nie? Die vernedering nog laat toeneem? Is ons nie maar almal mense nie?
Ek verstaan dat almal nie na hierdie mense uit daardie oogpunt kyk nie, en ek oordeel jou nie oor jou sienings nie. Dalk het jy goeie rede daarvoor. Maar verbeel jou net jy was in daardie posisie.
Verbeel jou net jy is besig om te grawe vir ‘n oggendete, of dalk iets om die kinders by die huis te gee. En in plaas daarvan dat iemand jou skel of wegjaag, kom hulle uit en gee jou ‘n vars brood en iets om te drink. Of selfs ‘n toebroodjie met iets op wat jy nooit self sou kon bekostig nie.
Kom ons kyk verby die redes wat daai persoon daar laat land het, en soek in jou hart vir ‘n bietjie genade.
Raak vandag weer bewus van al jou seëninge in die lewe, en mag jy Maandagoggend met ‘n nuwe gemoed na vullisdag kyk!





