WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek toegestaan, om die parlementêre afsettingsproses ingevolge Artikel 89 tydelik op te skort. Dit is totdat sy aansoek om die hersiening van die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-voorval afgehandel is.
Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê die president het die hof versoek om die afsettingsproses te staak hangende die uitslag van sy hersieningsaansoek oor die verslag wat verband hou met die voorval op sy Phala Phala-wildsplaas. Die Artikel 89-afsettingsproses is die grondwetlike meganisme waardeur die parlement kan besluit om ‘n president uit sy amp te verwyder indien daar bevind word dat hy die grondwet of die wet ernstig oortree het of ernstige wangedrag gepleeg het.
Volgens die presidensie neem Ramaphosa kennis van die hof se uitspraak en respekteer hy die beslissing. Hy het ook sy verbintenis tot die onafhanklikheid van die regbank en die skeiding van magte, soos in die grondwet vervat, herbevestig. Die presidensie sê die president sal voortgaan om met alle aanspreeklikheidsprosesse saam te werk en dit na te kom.





