WES-KAAP. – President Cyril Ramaphosa sal die uitspraak bestudeer nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof Woensdag 25 November die onafhanklike artikel 89-paneel se Phala Phala-verslag onregmatig verklaar en in sy geheel tersyde gestel het. Die hof het ook die stappe wat die Nasionale Vergadering op grond van die verslag gedoen het, tersyde gestel.
Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, sê Ramaphosa het vroeër vanjaar sy grondwetlike reg uitgeoefen deur die hof te vra om die verslag te hersien. Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, sê die speaker, Thoko Didiza, sal die uitspraak en die onmiddellike gevolge daarvan vir die Nasionale Vergadering en sy afsettingskomitee bestudeer. Die African Transformation Movement (ATM) oorweeg intussen ’n appèl.
Die saak spruit uit ’n inbraak in Februarie 2020 op Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas naby Bela-Bela in Limpopo, waar sowat US$580 000 gesteel is. Die paneel onder leiding van oudhoofregter Sandile Ngcobo het in 2022 bevind dat daar op die oog af gronde was vir verdere ondersoek na Ramaphosa se optrede rondom die diefstal. Die Nasionale Vergadering het in Desember 2022 daarteen gestem om die verslag na ’n afsettingskomitee te verwys. Die Grondwethof het dié stemming op 8 Mei 2026 tersyde gestel, waarna die parlement ’n artikel 89-komitee saamgestel het.
Nuusflits het op 24 Julie berig dat die Wes-Kaapse hooggeregshof die komitee se openbare verhore tydelik gestuit het terwyl Ramaphosa se hersieningsaansoek hangende was. In Woensdag se uitspraak het die hof bevind die paneel het die verkeerde maatstaf toegepas toe dit moes bepaal of daar genoegsame getuienis was om met die proses vir moontlike ampsverwydering voort te gaan.
Lees ook op Nuusflits – Hof skort Ramaphosa se afsettingsproses oor Phala Phala tydelik op
Bronne: www3.saflii.org, Presidensie, SABC News