OOS-KAAP. – ’n Australiese herdershond, genaamd Bean, is Saterdagmiddag uit die see by Pollock Beach in Gqeberha gered, nadat hy deur sterk seestrome sowat 200 meter van die kus af meegesleur is.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê Simon Williams, NSRI-Gqeberha se adjunkstasiebevelvoerder, het bevestig dat die reddingspan kort voor 15:00 ontbied is, nadat gerapporteer is dat ‘n hond in die moeilikheid is. ’n NSRI-reddingsboot en reddingswemmer is na die gebied ontplooi. Die swemmer het Bean in die water bereik en hom op die boot gehelp.
Die hond was blykbaar hipotermies en is met komberse warm gehou, voordat hy na die NSRI-basis geneem is. Bean se eienaars is met behulp van die kontaknommer op sy halsband opgespoor en het kort daarna by die basis opgedaag. Hulle is met hul hond herenig.
Volgens die NSRI het Bean tydens ’n middagstappie van sy leiband losgekom en in die see beland. Hy is deur sterk seestrome meegesleur terwyl sy eienaars en omstanders probeer het om hom te help. Bean is later huis toe geneem, waar hy ’n warm stort gekry het en in die sorg van sy eienaars herstel.




