Hond gered ná hy op kransrand vasgekeer is

Lees ook :

Foto's: JP Smith

WES-KAAP. – Sable, ’n jong Duitse pointerhond, is Saterdag uit ’n benarde situasie gered nadat hy tydens ’n uitstappie saam met sy eienaar op ’n kransrand in die Hillcrest-steengroef vasgekeer was.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die hond het glo agter ’n dassie aangehardloop en op ’n rand sowat 25 meter bo die grond beland. Sy eienaar het omstreeks 20:45 hulp ontbied, waarna die brand- en reddingsdiens hulle vinnig na die toneel gehaas het en bykomende spesialisspanne en toerusting ontbied het. Volgens Smith is ’n reddingsplan opgestel en ankerpunte met behulp van ’n skeepshouer naby die kransrand gevestig. ’n Lid van Wilderness Search and Rescue (WSAR) se K9-eenheid is met toue afgesak om die hond te bereik.

Die hond is met behulp van kos gelok en met ’n spesiale harnas vasgemaak. Ondanks sy onrustigheid is hy uiteindelik teen 01:20 veilig na onder gebring. Smith het die betrokkenes bedank en gesê die suksesvolle redding wys op die doeltreffende samewerking tussen verskillende dienste en die waarde van gespesialiseerde reddingsvaardighede.

WSAR sê reddingspanne het saam met die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens gewerk om die twee-en-’n-halfjarige hond, wat sowat 20 meter teen ’n 80 meter hoë krans uitgeklim het, maar kon nie weer self afkom nie, te red. Sy eienaar het hom later op ’n smal rand opgespoor waar hy vasgekeer was.

James Smart sê in ‘n sosialemediaplasing dit was ’n voorreg om deel van die reddingspoging te wees en het die reddingspan van die Mountain Club of SA, die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens en ander spesialiste vir hul professionaliteit bedank. Hy het ook erkenning gegee aan die rol van spanwerk en opleiding wat die sukses van die operasie moontlik gemaak het. Volgens Smart het selfs ’n bietjie droëwors gehelp om die hond te oortuig om saam te werk, en die aand het op ’n hoogtepunt geëindig toe die dier veilig met sy eienaar herenig is.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief