KAAPSTAD. – Hulp- en reddingspogings duur voort in Riverlands en Chatsworth naby Malmesbury, waar drie opgaardamme se walle gebars het. Die oorstromings het veroorsaak dat meer as 400 mense humanitêre hulp ontvang het en 14 in ‘n hospitaal opgeneem is vir ligte beserings of hipotermie.
Volgens die munisipaliteit is ‘n tydelike skuiling vir ongeveer 200 mense by ‘n plaaslike kerk en gemeenskapsentrum ingerig.
Die Swartland-munisipaliteit het mense op hul Facebook-blad bedank vir hulp en skenkings: “Ons is so oorweldig deur die vele versoeke wat ontvang is vir skenkings aan die vloedslagoffers, en ons is baie dankbaar vir die inwoners van die Swartland en omgewing wat soveel omgee vir diegene in nood.”
Die munispaliteit versoek dat skenkings van klere, komberse, ensovoorts by die POP-sentrum in Riverlands, in Rylaanlaan, of by die Love Kerk in Arendsestraat 9 afgelaai word. Alle navrae moet aan die Goedgedacht Trust-koördineerder gerig word.





