KWAZULU-NATAL. – Twee mans is vroeër vanoggend (Donderdag) beseer nadat ‘n swaar hyskraan in Ritchieweg (R103) naby Rudlingweg buite beheer geraak het. Die mans, wat te voet op pad werk toe was, is getref toe die hyskraan van die pad af ry.
Craig Botha, woordvoerder van KwaZulu Private Ambulance Service, sê paramedici is omstreeks 07:30 na die toneel ontbied ná berig ontvang is van ‘n ernstige botsing waarin voetgangers betrokke was. Met hul aankoms het gevorderde paramedici vasgestel dat een van die mans ernstige beserings, insluitend veelvuldige frakture, opgedoen het. Die tweede man het ligter beserings, waaronder snywonde en skaafplekke, gehad. Albei beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer is.
Wetstoepassingsbeamptes was ook op die toneel en ondersoek die oorsaak van die voorval.





