
GAUTENG. – ‘n Inkopieganger het hom Woensdag na sosiale media gewend en voornemende inkopers gewaarsku om die Brooklyn Mall in Pretoria te vermy. Die skote het glo in gange geklap toe verdagtes kort voor 10:00 ‘n beweerde gewapende rooftog by ‘n juwelierswinkel gepleeg en toe boonop met hulle vlug ‘n voertuig gekaap het. Vyf verdagtes tussen 32 en 38 jaar is ná ‘n jaagtog wat in die Pretoria-Sentraal middestad tot ‘n einde gekom het, in hegtenis geneem.
Kapt. Tintswalo Sibeko, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die voorval het kort voor 10:00 by Brooklyn Mall in Tshwane plaasgevind. Hy sê voorts in ‘n verklaring een van die verdagtes het hom glo as ’n kliënt voorgedoen voordat hy toegang geforseer het. Terwyl een van die mans vertoonkaste beskadig het, het die ander juweliersware gegryp en daarna met ’n gekaapte voertuig van die toneel gevlug.
‘n Gesamentlike operasie deur die Tshwane-distrikspolisie se stabiliseringspan en privaat veiligheidsdbeamptes het tot ‘n jaagtog en die inhegtenisneming van die verdagtes in die Pretoria-Sentraal-sakegebied gelei. Tydens die operasie het ’n skietery uitgebreek waarin ’n veiligheidsbeampte gewond. Hy kry tans mediese behandeling. Drie van die verdagtes is ook beseer en is onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem.
Die polisie het die gekaapte voertuig, ’n vuurwapen met ammunisie, asook die gesteelde juweliersware teruggevind. Ondersoeke na die voorval duur voort.
Brooklyn Mall het ‘n verklaring op sosiale media uitgereik en bevestig ‘n CSI-veiligheidsdiensbeampte is beseer en in ‘n hospitaal opgeneem.






