OOS-KAAP. – Die Valke vra dringend inligting van die publiek oor vier jong kinders wat reeds meer as ’n jaar en ’n half gelede spoorloos in Ntabankulu verdwyn het.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die saak bly een van die mees ontstellende ondersoeke na vermiste kinders in die land. Sive Siganga (7), Oyintando Siganga (4), Thabsile Siganga (4) en Thabile Siganga (4) is laas op 10 November 2024 by hul huis in die Mjila-administratiewe gebied gesien. Volgens die Valke het die kinders buite in die erf gespeel toe hulle onder onverklaarbare omstandighede spoorloos verdwyn het. ’n Ontvoeringsaak is onmiddellik geopen, waarna die ondersoek later aan die Valke oorgedra is. Sedertdien is alle beskikbare inligting opgevolg en ontleed, maar bly die kinders se verdwyning onopgelos. Die Valke doen ’n beroep op tradisionele leiers, gemeenskapsleiers, geloofsorganisasies, skole, die media en burgerlike organisasies om te help om die soektog te versterk en enige inligting te deel.
Enigiemand met inligting oor die kinders en waar hulle moontlik kan wees kan kol. Raymond Buys by 082 301 1135 of AO Norton Ndabambi by 082 559 4613 bel.





