TEHERAN – Iran se nuwe opperleier, Mojtaba Khamenei, is tydens ’n aanval beseer maar is “veilig en gesond”, het die seun van president Masoud Pezeshkian Woensdag gesê. Vrae het ontstaan omdat die nuutverkose leier sedert sy verkiesing die naweek nog nie in die openbaar gesien is of ‘n aankondiging gemaak het nie.
Volgens berigte deur Iran International het Yousef Pezeshkian, wat ook ’n regeringsraadgewer is, op Telegram geskryf dat hy navraag gedoen het oor berigte van Khamenei se besering en meegedeel is dat hy veilig in ‘n skuilplek is.
Teheran se ambassadeur in Ciprus, Alireza Salarian, het intussen aan The Guardian bevestig dat Khamenei beseer is tydens die aanval op 28 Februarie waarin ses van sy familielede dood is, insluitend sy pa, die voormalige opperleier Ali Khamenei, sy vrou en ‘n dogter.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Khamenei se verkiesing tot opperleier deur ’n komitee van geestelikes as “onaanvaarbaar” beskryf en gesê hy sal waarskynlik nie lank in die pos bly nie.
Israel het ook gewaarsku dat dit nie sal huiwer om die Sjia-geestelike te teiken nie.
Bronne: The Guardian, Iran International





