TEHERAN. – Iran het ’n nuwe ronde vredesgesprekke met die VSA verwerp, het die land se staatsnuusagentskap Sondag berig, slegs ure nadat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het dat hy afgevaardigdes na Pakistan stuur en verdere militêre optrede oorweeg indien Iran nie aan sy voorwaardes voldoen nie.
Volgens The Times of India het Trump op sy platform, Truth Social, gesê Amerikaanse gesante sal Maandagaand in Pakistan aankom vir onderhandelinge. Die beplande tydraamwerk laat egter min ruimte vir vordering voordat ’n twee weke lange skietstilstand tot ’n einde kom.
“Ons bied ’n baie regverdige en redelike ooreenkoms aan, en ek hoop hulle aanvaar dit, want indien nie, gaan die Verenigde State elke kragstasie en elke brug in Iran uitskakel,” het hy geskryf. “GEEN MR. NICE GUY MEER NIE!”
Volgens Iran se amptelike nuusagentskap, Islamic Republic News Agency (IRNA), is die besluit om die gesprekke van die hand te wys gebaseer op wat dit beskryf as Washington se buitensporige eise, onrealistiese verwagtinge en herhaalde veranderinge van standpunt. IRNA het ook die voortgesette vlootblokkade deur die VSA as ’n skending van die skietstilstand bestempel.
Intussen het Iran se Revolusionêre Wag die strategiese Straat van Hormoes gesluit. Kommersiële skepe moet nou uitdruklike toestemming verkry en goedgekeurde roetes volg. Die wag het gewaarsku dat vaartuie wat sonder klaring nader, geteiken kan word.
Die Withuis het nie onmiddellik op Iran se verwerping van die samesprekings gereageer nie.
Bronne: News on Air, The Times of India





