GAUTENG – ‘n Onderwyser (37), wat wiskunde by Hoërskool Ivory Park aanbied, is Woensdag op beskuldiging van verkragting van ‘n gr. 12-leerling in hegtenis geneem.
Steve Mabona, woordvoerder van Gauteng se departement van onderwys, sê in ‘n verklaring die bewering dateer terug na Desember 2025 toe die leerling nog in gr. 11 was. Die onderwyser het glo buite skoolure privaat lesse vir die leerling by sy huis gegee, waar die voorval na bewering plaasgevind het.
Die leerling het ook vroeër probeer om aanhoudende beweerde onvanpaste gedrag by die skool aan te meld. Haar ma het die saak op 2 Maart by die skoolhoof aangemeld, waarna die onderwyser op 4 Maart in hegtenis geneem nadat hy, reeds afwesig by die skool, na bewering probeer het om owerhede te vermy.
Interne prosedures is vanoggend deur die departement begin. Terapeutiese en beradingsondersteuning word aan die leerling en haar familie gebied.





