KWAZULU-NATAL. – ’n Minibustaxi met passasiers het vanoggend (Woensdag) in Blackridge buite beheer geraak en teen ’n woonhuis se muur vasgery, voordat dit verskeie kere gerol het. Die bestuurder is dood en 15 passasiers het beserings opgedoen.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê chaos is aangetref met aankoms op die toneel waar die taxi in Thorperylaan tot stilstand gekom het nadat dit in Sweetwaterspad gery het en gerol het. 10 passasiers het ernstige beserings opgedoen, insluitend gebreekte bene en moontlike rugbeserings. Vyf ander passasiers, insluitend ’n 2-jarige kind en sy ma, het snye en skrape opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer. Die kritiek beseerde taxibestuurder is op die toneel dood verklaar ondanks pogings om sy lewe te red.
Botha sê voorts Thorperylaan was vir ongeveer twee uur gesluit om die beseerdes uit die wrak te bevry en na hospitale te vervoer. Ondersoek word deur owerhede ingestel om vas te stel wat die ongeluk veroorsaak het.






