Janae Stander, wat deur Brendan Peyper as sy keuse in die Op My Eish-maatsoekreeks gekies is, het voor vanaand se uitsending van die reünie-episode ’n Instagram-plasing gemaak. Volgens haar is sy dankbaar vir die pad waarop sy geplaas is.
Na die “ses maande se afwagting” sluit sy die reis af. Haar vriendinne het haar aangemoedig om in te skryf. Sy het eers na ’n maand se gebed oor die saak besluit om haar inskrywingsvideo op die dag van die sluitingsdatum te maak. “’n Uur nadat ek my video submit het, het ek ’n oproep gekry en so het hierdie hoofstuk begin,” skryf sy.
Janae is dankbaar vir die vriendskappe en verhoudinge wat sy tydens die reis gevorm het.
“Ek het ook weereens besef dat my identiteit slegs in Jesus lê. Ek is vir ewig dankbaar vir die pad waarop Hy my gesit het en kan getuig hoe goed Jesus in my lewe kom werk het.”
Die reünie-episode word vanaand om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Bron: Janae Stander – Instagram





