Bernadine Engelbrecht (26), ‘n honneurstudent in sielkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika, se liggaam is Donderdagmiddag laat in ‘n gastehuis in Bloemfontein aangetref.
Nuusflits het voorheen ‘n berig geplaas wat haar sussie, Antoinette Engelbrecht, versoek het nadat sy Maandag vermis geraak het.
‘n Vriendin, wat saam met haar filosofie as vak geneem het, sê die polisie vermoed geen misdaad nie.
Engelbrecht het Dinsdagmiddag om 14:31 nog die laaste boodskap aan haar vriendin gestuur. Sy het gepraat oor hoe sy in die laaste paar maande haar selfvertroue verloor het.
Na hierdie boodskap is Engelbrecht se selfoon afgeskakel, en boodskappe het nie meer na haar toe deurgegaan nie.
Engelbrecht se familie het beeldmateriaal van ‘n kamera voor die gesin se huis gebruik om die registrasienommer van die voertuig waarin sy geklim het, op te spoor.
Die taximaatskappy het die familie na die gastehuis in die noorde van Bloemfontein verwys. In samewerking met die polisie het Engelbrecht se familie na haar gaan soek. Sy is dood op ‘n bed aangetref.
“Sy was baie caring,” vertel haar vriendin. Sy het altyd met ‘n goeie oor geluister, almal om haar eerste gesit en probeer help, terwyl dit eintlik met haar self nie goed gegaan het nie.”
“Sy het baie opgesien na die behandeling wat sy weer vir haar siekte, neuropatie, moes ontvang.
“Ek troos myself deur te onthou dat sy pynvry wou wees.”