WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het ’n nuwe veiligheids- en sekuriteitsfunksie op sy selfoontoepassing bekend gestel wat inwoners in staat stel om oortredings en misdaad vinnig aan te meld. Die toepassing bied reeds dienste soos die aanmeld van munisipale probleme, toegang tot rekeninge en kennisgewings oor beplande diensonderbrekings en padsluitings.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die funksie is deur die stad se EPIC-span ontwikkel en maak dit moontlik vir gebruikers om voorvalle op hul selfone aan te meld. Tans kan inwoners voorvalle in 17 kategorieë aanmeld, insluitend metaaldiefstal, openbare drinkery, verlate of onklaar voertuie, probleemgeboue en stropery.
Indien ’n spesifieke voorval nie op die toepassing beskikbaar is nie, word gebruikers na die openbare noodkommunikasiesentrum verwys. Volgens die Stad bied die funksie verskeie voordele, onder meer dat verslae outomaties met liggingdata gestuur en na die toepaslike departemente verwys word, terwyl gebruikers ook foto’s kan oplaai om reaksietye te verbeter. Voorvalle kan ook diskreet aangemeld word. Geregistreerde gebruikers sal ook waarskuwings ontvang oor veiligheidsvoorvalle in hul omgewing, gebaseer op data wat deur die toepassing ingedien word.
Die Stad sê die nuwe funksie sal help om druk op die noodkommunikasiesentrum te verlig en vorm deel van pogings om samewerking met gemeenskappe te versterk.
Druk hier om meer te lees.





