Brekende Nuus
Munisipaliteite

Kaapstad wil uiteindelik dekades oue onvoltooide snelweë voltooi

Die Stad Kaapstad het planne bekend gemaak om die bekende onvoltooide snelweë aan die Foreshore met ’n nuwe brug, tonnel, promenade en woonbuurt te ontwikkel.

kaapstad wil onvoltooide snelwee uiteindelik voltooi
Foto: https://foreshore.capetown

KAAPSTAD. – Die Stad Kaapstad wil uiteindelik die stad se bekende onvoltooide snelweë aan die Foreshore voltooi en die gebied met nuwe infrastruktuur en behuising ontwikkel.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester, het die planne vir die sogenaamde Foreshore Precinct Project aangekondig.

Die voorgestelde ontwikkeling sluit ’n nuwe brug in wat die inkomende snelweg met Helen Suzman-boulevard sal verbind. ’n Tonnel vir uitgaande verkeer word ook beplan.

Die bestaande uitgaande verhoogde snelweg sal volgens die plan uiteindelik verwyder word om plek te maak vir ’n promenade, parke en ander openbare ruimtes.

’n Nuwe woonbuurt met bekostigbare behuising, stapvriendelike strate en openbare ruimtes word as deel van die ontwikkeling beplan. Sowat 15 hektaar grond wat tans onontwikkel is, sal volgens die Stad vir verdere ontwikkeling beskikbaar gestel word.

Die projek sal in twee fases ontwikkel word. Die Stad sê dit sal daarop gemik wees om sover moontlik bestaande verkeersvloei tydens konstruksie  te behou.

Die projek is nog in die beplanningsfase. ’n Openbare deelnameproses moet eers plaasvind voordat finale ontwerpe en gedetailleerde ingenieursplanne ontwikkel word. Finale koste is ook nog nie vasgestel nie.

Die onvoltooide snelweë aan die Kaapse Foreshore dateer uit die 1970’s.

Bron: Stad Kaapstad