Brekende Nuus
Misdaad

DA-raadslid en 3 medebeskuldigdes in hof ná man se dood

Foto: City of Ekurhuleni

GAUTENG. – Kabelo Relitilwe Mahonko (40),’n DA-raadslid, Sibusiso Masondo (43), Muzi Des Godie (33) en Lethabo Nhlanhla Makgabo (19) het in verband met die moord op Vuyisile Mzwakhe Khananda (23) in die Benoni-landdroshof verskyn, asook op aanklagte van poging tot moord en ontvoering.

Volgens Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, word die vier daarvan beskuldig dat hulle twee mense ontvoer en aangerand het. Die voorval het volgens die NVG tussen 16 en 17 Julie plaasgevind nadat die vier glo vermoed het dat die twee slagoffers betrokke was by ’n huisbraak en diefstal by Mahonko se woning. Daar word beweer dat die beskuldigdes die twee slagoffers op 17 Julie na Longmorestraat in Crystal Park, Benoni, vervoer en agtergelaat het. Albei slagoffers is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem. Khananda het later aan sy beserings beswyk. Die vier beskuldigdes is ná ’n polisie-ondersoek op verskillende datums tussen 17 en 21 Augustus in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding.

Die saak is tot 1 September uitgestel wanneer ’n formele borgtogaansoek aangehoor sal word. Aansoek om borgtog sal na verwagting deur die staat teengestaan word.