GAUTENG. – Die kabinet het besluit om die historiese skuld wat met Gauteng se e-tolstelsel verband hou, af te skryf en sodoende ’n einde te bring aan jarelange onsekerheid oor die stelsel.
Die nasionale woordvoerder van die departement van vervoer, Collen Msibi, het gesê die besluit beteken dat Sanral nie meer pogings sal aanwend om ou e-tolskuld in te vorder nie. Dit bring ook verligting vir motoriste wat reeds weens stygende brandstofkoste swaar kry. Barbara Creecy, die minister van vervoer en Mkhuleko Hlengwa, die adjunkminister het die stap verwelkom en gesê dit is ’n belangrike mylpaal om die e-tolkwessie finaal af te handel. Volgens hulle sluit die besluit ook die afhandeling van alle uitstaande hofgedinge in.
Die e-tolstelsel is oorspronklik ingestel as ’n manier om die opgradering van Gauteng se hoofpaaie onder bestuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) te finansier. Hoewel die regering reeds in April 2024 die e-tolstelsel amptelik beëindig het, bevestig die jongste besluit nou dat alle oorblywende skuld afgeskryf word en dat geen verdere invorderingsaksies geneem sal word nie.
Motoriste wat hul e-tolrekeninge destyds betaal het, sal egter nie hul geld terugkry nie, aangesien die heffings wettig was toe dit ingestel is. Die regering meen die stap sal help om duidelikheid te bring, ou kwessies af te handel en ’n meer volhoubare benadering tot die finansiering en instandhouding van die land se padnetwerk te ondersteun.







