KWAZULU-NATAL. – ’n Man wat na bewering ’n BMW-eienaar geskiet en probeer het om sy voertuig te kaap, is Woensdagaand (14 Oktober) tydens ’n skietgeveg met die polisie in Umbilo doodgeskiet.
Die voorval het in Clarkweg begin toe polisiebeamptes op roetinepatrollie ’n man gewaar het wat glo langs ’n geparkeerde BMW skote geskiet het. ’n Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagte ontstaan, waarna hy te voet gevlug en ’n e-taxi in Rydeweg gekaap het. Hy het met die gekaapte voertuig in die rigting van Che Guevaraweg gery terwyl hy aanhou skiet het.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiunda, het ’n polisie- en metropolisie-eenheid wat in Che Guevaraweg ontplooi was, op sy hakke. Die verdagte het beheer oor die voertuig verloor en teen die hek van ’n nabygeleë huis gebots. Hy is op die toneel dood verklaar. Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat hy die eienaar van die BMW, wat hy na bewering probeer kaap het, geskiet en gewond het. Die eienaar is na ’n hospitaal geneem.
Netshiunda het berigte op sosiale media dat ’n verbyganger of student deur ’n dwaalkoeël getref is, as vals en kwaadwillig beskryf. Die verdagte se identiteit is nog onbekend en bewerings dat hy ’n buitelander is, is onbevestig. Verskeie polisievoertuie is deur koeëls getref, maar geen polisiebeamptes is beseer nie.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die diens se beheerkamer het oproepe ontvang van ‘n kaping wat plaasgevind het en dat ‘n persoon geskiet is. Op die toneel is ‘n man, vermoedelik in sy 30’s aangetref, wat weens verskeie skietwonde kritiek beseer is. Hy is op die toneel gestabiliseer en vir verdere spesialisbehandeling na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
Minder as ‘n kilometer verder was daar nog ‘n misdaadtoneel wat glo met dié van die man verbind is. Die polisie het mediese bystand gevra. ‘n Man vermoedelik in sy 30’s, is dood aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.