WES-KAAP. – Lede verbonde aan die Sentraal-Karoo Flying Squad en K9-eenhede se pogings om die onwettige verspreiding van dwelms in plaaslike gemeenskappe hok te slaan, het positiewe resultate opgelewer.
Luidens ’n persverklaring uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is groot hoeveelhede dwelms Vrydagoggend 27 Februarie 2026 om 10:40 by ’n voertuigkontrolepunt by die weegbrug op die N1 naby Beaufort-Wes gekonfiskeer.
Tydens die roetine-deursoeking is ’n vragmotor, onderweg van Gauteng na Kaapstad, voorgekeer. Met die deursoeking van die vragmotor is die volgende in die sleepwa ontdek:
- 3,362 kg tik
- 22 000 Mandrax-tablette
- 131,5 kg hoëgraadse buitelug-dagga
Die beraamde straatwaarde van die besending is R3 328 700.
Die vragmotorbestuurder en sy passasier, onderskeidelik 38 en 41 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die beskuldigdes, beide buitelandse burgers, is van dwelmhandel aangekla.
Hulle sal na verwagting op Maandag 2 Maart 2026 in die Beaufort-Wes-landdroshof op die aanklag verskyn.
Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, het die lede geloof vir die konfiskering van die dwelms en hul pogings om oortreders aan die gereg te onderwerp.
Bron: SAPS https://www.saps.gov.za/





