LIMPOPO. – ’n 44-jarige Keniaanse burger het Donderdag op twee aanklagte van verkragting en twee aanklagte van seksuele voorbereiding van skoolkinders in die Groblersdal-landdroshof verskyn.
Mashudu Malabi, NVG-streekwoordvoerder, sê die beskuldigde se identiteit word teruggehou om die identiteit van die kinders te beskerm en sekondêre viktimisasie te voorkom. Daar word beweer dat die beskuldigde sedert 2022 leerlinge van ’n plaaslike skool gewerf en na sy gehuurde kamer in die dorp geneem het. Hy sou die kinders naak verfilm, geld aan hulle gee en hulle dwing om seksuele dade met hom uit te voer met die belofte dat hulle selfone sou ontvang.
Die saak het aan die lig gekom nadat die slagoffers na bewering gevra is om ander leerlinge van dieselfde skool te werf. Inligting is by die skool bekend gemaak en die saak is daarna by die polisie aangemeld, waarna die beskuldigde in hegtenis geneem is.
Die staat sal ‘n aansoek om borgtog deur die beskuldigde teensaan. Die saak is vir verdere ondersoek en sodat die beskuldigde regsverteenwoordiging kan bekom tot 23 September uitgestel. Hy bly in aanhouding.