Brekende Nuus
Afrikaans

Kerkleier van kaal gemeentelede en kinders kry opgeskorte vonnis

'n Kerkleier wat in Junie verlede jaar met kaal gemeentelede en kinders betrap is, het 'n opgeskorte vonnis ontvang.

Kerkleier kry opgeskorte vonnis
Foto: Ter illustrasie Canva

NOORDWES. – Zoliswa Menziwa (36), ‘n kerkleier, is volgens die wet op seksuele oortredinge tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Lt.genl. Sello Kwena het die vonnis verwelkom.

Kapt. Sam Tselanyane sê die saak spruit voort uit ‘n voorval op 1 Junie 2022. Vyf gemeentelede en 11 kinders was kaal in ‘n huis wat as kerk gebruik was. Menziwa was die enigste persoon wat klere aangehad het.

Tydens die voorlopige ondersoek is die ses seuns en vyf meisies tussen die ouderdom van vier en twaalf jaar deur maatskaplike dienste in die sorg van ander familielede geplaas.

In die saak wat deur Rustenburg-GKS ondersoek is, is die kerkleier skuldig bevind terwyl vyf ander persone vrygespreek is.

Nuusflits het op 8 Junie 2022 soos volg berig:

Ses gemeentelede is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering kaal met 11 kinders betrap is.

Noordwes-polisiewoordvoerder, brig. Sabata Mokgwabone, het bevestig die ses persone wat naak by ‘n kerk in Sondela in Rustenburg gevind is, het Maandag vlugtig in die landdroshof verskyn.

Mokgwabone het gesê drie mans en drie vroue is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle naak in ‘n huis gevind is wat as kerk gebruik is. Die beskuldigdes is tussen 21 jaar en 85 jaar oud.

Elf kinders tussen die ouderdom van vier en 12 jaar oud is ook by die kerk gevind. Van die 11 kinders was vyf meisies en ses seuns.

‘n 34-jarige vroulike kerkleier was die enigste persoon wat klere aangehad het.

Die kinders is uit die huis verwyder en aan maatskaplike werkers oorhandig, waarna hulle uiteindelik onder die sorg van ander familielede geplaas is.

Die saak in die Rustenburg-landdroshof is tot 13 Junie 2022 vir verdere ondersoek uitgestel.

Die ses beskuldigdes staan tereg op aanklagte van crimen injuria en oortreding van Artikel 22 van die Wysigingswet op die Strafwet (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede).

Na bewering is die kerk ook Vrydag gedeeltelik afgebrand deur die kerkleier na ‘n bank en ander items aan die brand gesteek is. Sy is later in hegtenis geneem na sy uit die hospitaal ontslaan is waar sy twee dae vantevore opgeneem is.

Bron: SAPD en op lêer