Brekende Nuus
Nuus

2 kry elk 25 jaar vir roof en verkragting by kerk op Paassondag

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Die Khayelitsha-streekhof het Yamkela Tobo en Okuhle Beja elk tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle gemeentelede vroeg op Paassondag in 2023 in ’n kerk in die Taiwan- informele nedersetting in Khayelitsha beroof en aan seksuele geweld onderwerp het. Die gemeentelede het ná ’n deurnagdiens tee gedrink toe die twee met ’n mes en ’n vuurwapen ingestorm en hul selfone geroof het.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die mans is skuldig bevind op een aanklag van roof met verswarende omstandighede, vyf aanklagte van verkragting, twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer en 13 van seksuele aanranding. Die polisie het die meeste van die gesteelde selfone teruggevind nadat Beja hulle na Tobo se huis gelei het. Die vuurwapen is nooit teruggevind nie.

Slagofferimpakverklarings van 19 mense, onder wie drie minderjariges, het beskryf hoe die aanval hul gevoel van veiligheid geskaad het. Sommige het hulle aan kerkbedrywighede onttrek en gesukkel om terug te keer na ’n plek waar hulle voorheen geborgenheid gevind het. Talle van die bejaarde gemeentelede wat die aanval aanskou het, het gevoelens van vrees en hulpeloosheid beskryf.

Advokaat Denzel Martin, die staatsaanklaer, het lewenslange gevangenisstraf gevra en aangevoer dat die mans geen berou getoon het nie. Die hof het hul jeugdigheid en die feit dat al die misdrywe tydens dieselfde voorval op dieselfde plek gepleeg is, as gronde aanvaar om van die voorgeskrewe minimum vonnisse af te wyk. Die vonnisse op die 21 aanklagte het altesaam 180 jaar beloop. Omdat die hof gelas het dat die betrokke vonnisse gelyklopend uitgedien word, sal elk van die mans effektief 25 jaar tronkstraf uitdien. Die hof het albei ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit en gelas dat hul name in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word.