NOORDWES. – ‘n Kind wat na bewering as 5-jarige verkrag is, asook verskeie getuies, het Donderdag vergeefs by die Brits-landdroshof opgedaag. Dit is nadat die voorsittende landdros nie vir die hofverrigtinge opgedaag het nie.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê landdros Dube was afwesig omdat sy ‘n welstandseminaar in Rustenburg bygewoon het. Volgens Bateman is geen van die partye vooraf daarvan in kennis gestel nie, hoewel die saak vir twee dae op die hofrol geplaas was. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die meisie en haar pleegouers nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik besluit het om nie die saak te vervolg nie.
Die meisie se ma en stiefpa staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en die versuim om ‘n seksuele misdryf teen ‘n kind aan te meld, wat in 2018 plaasgevind het. Volgens Bateman is die saak reeds verskeie kere uitgestel weens onder meer die afwesigheid van ‘n tolk, ‘n tussenganger en vroeër vanjaar nadat die landdros na bewering vervoerverwante probleme ondervind het. Hy sê elke uitstel dwing die slagoffer om haar vir haar getuienis voor te berei en die trauma telkens te herleef. Die privaatvervolgingseenheid voer aan dat die herhaalde vertragings nie in die beste belang van die kind is nie.
AfriForum sê hy sal die saak onder die aandag van die president van die streekhof en die landdroskommissie bring en sy kommer oor die hantering van die saak uitspreek. Die verhoor is tot 25 en 26 November uitgestel.
Druk hier om meer te lees.





