Brekende Nuus
Nuus

Kissie met as op strand gevind

Foto: SAPD

OOS-KAAP. – Die polisie in Jeffreysbaai doen ’n dringende beroep op die publiek om te help om die verassingsoorblyfsels van ’n onbekende oorledene te identifiseer nadat ’n klein kissie met ’n sak as op die strand gevind is.

Kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder, sê ’n lid van die gemeenskap het die kissie op 17 September op die Jeffreysbaaistrand gevind. Die naam “Llwelyn Felix” is daarop aangebring. Die kissie en as is deur die polisie in bewaring geneem terwyl ondersoek ingestel word om die familie op te spoor of die oorsprong van die oorskot vas te stel.

Enigiemand met inligting wat kan help om die oorledene te identifiseer, of wat weet hoe die kissie op die strand beland het, word versoek om die Jeffreysbaai-polisie te kontak.