GAUTENG. – ’n 69-jarige man is Maandagaand tydens ’n gewapende huisroof op ’n kleinhoewe in Serenstraat, Kromdraai, doodgeskiet. Dit is binne die Hammanskraal-polisiëringsgebied in Tshwane se noordelike distrik.
Polisiewoordvoerder, kapt. Johan van Dyk, sê aan Nuusflits polisiebeamptes is omstreeks 22:00 na ’n klagte van huisroof en moord ontbied. Met hul aankoms op die toneel het hulle die liggaam van die slagoffer met skietwonde aan die kop aangetref. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat drie onbekende verdagtes toegang tot die hoofhuis verkry het waar die oorledene se broer geslaap het. Die broer is na bewering vasgebind en gedwing om saam met die aanvallers na ’n buitekamer te gaan waar die oorledene en sy vrou was.
Volgens die getuie het die oorledene die deur oopgemaak, waarna hy onmiddellik geskiet is en op die toneel inmekaargesak het. Die verdagtes het daarna verskeie huishoudelike en tuintoerusting in ’n silwer Volkswagen Passat, vermoedelik ’n 2005-model, gelaai en met die voertuig gevlug. Die ander twee verdagtes het kort daarna die toneel verlaat. Nooddienste het die slagoffer op die toneel dood verklaar, terwyl forensiese spanne die toneel vir bewyse gefynkam het.
Sake van huisroof en moord word ondersoek. Geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie en ondersoeke duur voort. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om met enige inligting na vore te kom wat kan help om die verdagtes op te spoor.





