VRYSTAAT. – Vuyisane Makeleni (24) is deur die Bloemfontein- seksuele oortredingshof tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ’n 3-jarige meisie. Die verkragting het plaasgevind by ‘n kleuterskool waar hy as ‘n kok gewerk het en ook ander take verrig het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die voorval het op 9 Mei 2024 plaasgevind, toe die man die kind na die badkamer geneem en haar daar verkrag het. Hy het haar daarna gedreig om niks te sê nie. Die kind het later by die huis oor pyn gekla en uiteindelik aan haar ma vertel wat gebeur het. Sy is toe vir ‘n mediese ondersoek geneem waar beserings bevestig is. Die saak is by die polisie aangemeld en ondersoeke het gevolg. Daar is ook bevind dat die kleuterskool nie geregistreer was nie en dit is gesluit. Die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem en aangekla.
In die hof het die staat aangevoer dat die man die vertroue van die kind en haar ouers ernstig geskend het en ’n bedreiging vir die samelewing inhou. Die hof het saamgestem en ’n swaar vonnis opgelê. Sy naam sal ook in die register vir seksoortreders aangeteken word.





