Brekende Nuus
Nuus

Hof gee groen lig vir kennisgewing oor onwettige besetting by Knoflokskraal

Foto: Minister Dean Macpherson

WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse hooggeregshof het die departement van openbare werke en infrastruktuur toestemming gegee om ’n alternatiewe kennisgewingproses te volg vir sy hoofhofaansoek oor die besetting van staatsgrond by Knoflokskraal.

Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, het die bevel verwelkom en sê dit is ’n belangrike eerste stap om die nodige inligting oor die mense wat die eiendom beset, in te samel en die saak deur ’n hofbeheerde proses te hanteer. Die hoofaansoek sal na verwagting in Februarie volgende jaar aangehoor word. 

Luke Albert, waarnemende mediaskakelbeampte in Macpherson se kantoor, sê die hofbevel maak voorsiening vir ’n uitgebreide kennisgewingproses om te verseker dat alle geraakte persone, ook dié wie se identiteit onbekend is, van die aansoek in kennis gestel word en ’n geleentheid kry om aan die regsproses deel te neem.

Kennisgewings sal in Engels, Afrikaans en isiXhosa op opvallende plekke op die betrokke eiendomme aangebring word. Die proses sluit ook aankondigings met luidsprekers, kennisgewing aan gemeenskapsorganisasies, kennisgewings in koerante en aanlyn toegang tot die hofstukke in. Macpherson sê die departement verbind hom tot ’n wettige, deursigtige en prosedureel billike proses onder toesig van die hof.

Die departement sê die hofbevel is ’n prosedurele stap en nie die finale beslissing oor die hoofaansoek nie. Die aansoek en ondersteunende dokumente is beskikbaar by hierdie skakel.