WES-KAAP. – Die burgemeester, munisipale bestuurder en finansiële hoof van Knysna-munisipaliteit is in verband met beweerde korrupsie van ‘n veiligheidskontrak in hegtenis geneem. Knysna-munisipaliteit het in ’n verklaring bevestig dat twee senior amptenare en ’n voormalige raadslid vroeër die middag deur die polisie in hegtenis geneem is vir ondervraging.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die taakspan vir politieke moorde (PKTT) het die drie in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat ’n sakeman aan wie die kontrak toegeken is, na bewering om omkoopgeld genader is in ruil vir die voortsetting daarvan. Volgens die polisie het die sakeman reeds honderde duisende rand betaal omdat hy gevrees het dat sy kontrak beëindig sou word. Die drie staan tereg op aanklagte van korrupsie en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
Die munisipaliteit het aangedui dat hy in hierdie stadium geen verdere inligting of kommentaar het nie. Die polisie het nie die munisipaliteit se naam in sy verklaringbekend gemaak nie, maar die munisipaliteit se eie verklaring dui daarop dat die voorval met Knysna verband hou.