Nadine Terblanche en haar 9-jarige seuntjie is Maandag dood by hulle huis aangetref. Magdalena Weideman en haar dogter, Ruzanne, is Maandag na bewering met ’n jaggeweer doodgeskiet. Werner de Jager, eggenoot van ds. Liezel de Jager, is vir haar moord in hegtenis geneem. Ntembeko Myalo het die naweek na bewering sy vrou helder oordag op straat met ’n mes gesteek.
Dit is slegs ’n paar gewelddadige insidente waaroor FiND iT die afgelope week berig het. Te midde van dié voorvalle is 10 516 verkragtings vir die Julie-September-termyn aangemeld.
Die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders het op 25 November afgeskop. Ter viering van die veldtog het die regerende parlementsamptenare beklemtoon dat hulle hul parlementêre mag oor die uitvoering van grondwetlike kragte gaan inspan om geslagsgebaseerde geweld uit te wis.
Hierdie jaar se veldtogtema is “Accelerate actions to end gender-based violence and femicide: leaving no one behind.”
President Cyril Ramaphosa het in Januarie 2022 drie stukke wetgewing by die grondwet gevoeg as versterkingstrategieë vanaf die regering se kant. Tydens die Nasionale Vergadering in Oktober is die wetsontwerp deur die nasionale raad oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord goedgekeur.
Wendy Pekeur van die “Ubuntu Rural Women and Youth”-beweging wys daarop dat daar nie net tydens hierdie 16 dae daarop gefokus moet word nie, maar elke dag van die jaar. Pekeur sê dat hulle hofsake fyn dophou omdat die regstelsel die geneigdheid het om vroue en kinders te faal.
Moloto Mothapo, woordvoerder vir die parlement van Suid-Afrika, sê die veldtog duur tot 10 Desember.
Lees die persverklaring hier: https://www.parliament.gov.za/press-releases/media-statement-16-days-activism-together-we-can-win-battle-against-gbv
Bronne: EWN, Parlement van Suid-Afrika





