GAUTENG. – John Steenhuisen, die minister van landbou, het planne aangekondig om landwyd ’n konsep- roetine-inentingskema teen bek-en-klouseer in te stel. Belanghebbendes het sewe kalenderdae tyd, vanaf 10 April, om kommentaar oor die konsepvoorstel in te dien.
Joylene van Wyk, woordvoerder van die minister, sê die voorgestelde skema sal ’n vrywillige, nasionale raamwerk skep om die verspreiding van die siekte beter te bestuur. Die doel is om risiko’s te beperk en te verseker dat boere en veeboere hul bedrywighede sonder groot ontwrigting kan voortsit. Die skema fokus op gereelde inenting van gesplete hoefdiere en beoog om samewerking tussen die staat en die private sektor te versterk. ’n Spesiale komitee, wat onder meer veeartse en bedryfsverteenwoordigers insluit, sal oor die implementering toesig hou. Volgens die departement sal alle diere geïdentifiseer en op ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel geregistreer moet word. Dit sluit onder meer merke, tatoeëring en elektroniese oormerkies in om inentingstatus en lewensiklus te monitor.
Hoewel deelname vrywillig is, sal deelnemers aan streng bioveiligheidsmaatreëls en gereelde ouditering moet voldoen. Die departement sê die plan is ’n belangrike stap om bek-en-klouseer beter te beheer en uiteindelik die land se veesektor te beskerm.







