GAUTENG. – Konst. Thapelo Mashigo (32), verbonde aan Boschkop-polisiekantoor, het Dinsdag van ongeveer 08:00 tot kort voor middernag van sy familielede in Mamelodi-Oos, Pretoria, gyselaar gehou. Hy het sy neef (18) met sy dienspistool doodgeskiet en daarna sy eie lewe geneem net voor die spesiale taakmag (STF) van die polisie die huis kon betree.
Brig. Brenda Muridili, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Mamelodi-Oos-polisie is omstreeks 08:00 na die gyselaarsituasie ontbied. Ooggetuies het vertel die drama het oor ’n familietwis gegaan. Volgens getuies het die konstabel twee skote afgevuur voordat die polisie op die toneel aangekom het. Hy het glo geweier om sy ma (69) en neef uit die huis te laat gaan. Later is bevestig dat daar net drie persone in die huis was.
Gyselaar-onderhandelaars het omstreeks 23:00 reggekry dat die konstabel sy ma vrylaat. Sy is deur paramedici op die toneel behandel voordat sy na ’n hospitaal vervoer is. Die situasie het kort voor middernag tot ‘n einde gekom, net toe die spesiale taakmag op die punt was om taktiese toegang tot die huis te kry. Terwyl die onderhandelaars nog met die konstabel in gesprek was, is twee skote vanuit die huis gehoor. STF-lede het sy liggaam in die huis aangetref. Tydens die deursoek van die huis is ook die liggaam van die neef met skietwonde ontdek.
Muridili bevestig die polisie se eenheid vir werknemer-gesondheid en welstand (EHW) was op die toneel en sal psigososiale ondersteuning aan die familie en die konstabel se kollegas bied. Volgens Muridili sal ’n saak van moord, ontvoering, sowel as ’n geregtelike doodsondersoek by die Mamelodi-Oos-polisiekantoor geregistreer word. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat sal ook dienooreenkomstig oor die voorval ingelig word.
Mashigo wat in 2019 by die polisiediens aangesluit en by Boschkop gestasioneer was, was met sy dood by die essensiële-infrastruktuur-taakspan vir die streek ontplooi.