Waarskuwing! Die foto’s van die ongelukstoneel kan sensitiewe lesers ontstel.
KWAZULU-NATAL. – Minstens 11 persone, insluitend vermoedelik ‘n 13-jarige kind, is in ‘n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n minibustaxi op die ou R102, nou die Wanda Celestraat, naby Lotus Park, in Isiphingo, suid van Durban, dood. Motoriste word aangeraai om die gebied weens verkeer te vermy en aangesien dit as ‘n “grusame toneel” bestempel is.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het kort na 07:30 oproepe vir hulp oor die ongeluk ontvang. Addisionele ambulanse en lewensondersteunende paramedici is na die toneel. Jamieson sê verskeie ambulansdienste het hulle na die toneel gehaas waar hulle deur chaos begroet is.
‘n Vragmotor en ‘n volgelaaide minibustaxi het reg van voor met mekaar gebots, waarna die taxi weens impak van die pad af teen ‘n wal op is en tussen ‘n boom en die vragmotor vasgedruk is. Die Ethekwini-brandweer werk onverpoos om vasgekeerde persone los te sny. Die meeste van die ongeveer agt beseerde persone is in ‘n ernstige of kritieke toestand. Hulle word op die toneel behandel en vir verdere mediese behandeling na hospitale vervoer.
Die minibusbestuurder is drie uur later uit die wrak bevry. Daar is van ‘n insleepdiens gebruik gemaak om die vragmotor te verskuif om nooddienswerkers die geleentheid te gee om hom uit die wrak te kry en mediese behandeling te bied. Hy is kritiek beseer.
Die pad is gesluit en sal ‘n geruime tyd vir die ondersoek gesluit bly. Die polisie, padverkeersinspektoraat en metropolisie is op die toneel. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.







