Bobby van Jaarsveld is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit wat luisteraars gaan laat glimlag én dalk selfs anders laat dink oor liefde en aantrekkingskrag. Met My Tipe breek die gewilde sanger die “perfekte prentjie-stigma.”
Volgens Fanie Nel van die Coleske Groep breek My Tipe weg van oppervlakkige skoonheidstandaarde en herinner dit mense daaraan dat persoonlikheid en ‘n goeie hart steeds die meeste tel. In ‘n era waar sosialemediafilters en vals prentjies hoogty vier, bring die liedjie ‘n eerlike en lighartige boodskap.
Bobby sê die inspirasie het van ‘n onverwagse plek gekom, tydens ‘n gesprek op stel toe ‘n aktrise hom gevra het wat sy “tipe” is. Hy kon haar nie antwoord nie, want hy het besef hy het nog nooit eintlik ‘n spesifieke tipe gehad nie. “Al wat ek soek, is ‘n lekker mens. Dis genoeg vir my,” sê hy. Die lirieke beklemtoon dat liefde nie beperk word deur haarkleur, liggaamstipe of voorkoms nie. “Ek gee nie om nie – rooikop, blond of brunet, maer of vet – solank jy persoonlikheid het, is jy mý tipe!” Dit is ‘n boodskap wat Bobby na aan die hart lê: “Ons almal waardeer ‘n mooi gesiggie, maar ons waardeer baie meer ‘n mooier hart en ‘n lekker mens.”
Musiekgewys is My Tipe ‘n opgewekte nommer met ‘n lekker sokkiegevoel, iets wat eerder geniet as oordink moet word. Met sy aansteeklike ritme en Bobby se kenmerkende sjarme lyk dit of hierdie enkelsnit vinnig ‘n gunsteling op speellyste en dansbane regoor die land gaan word.





