KWAZULU-NATAL. – Vyf persone het op Nuwejaarsdag by die Pennington-hoofstrand aan die Suidkus weggespoel. Daar is aanvanklik vermoed al vyf het verdrink, maar twee is reeds gevind, van wie een dood.
Luidens ‘n verklaring deur Kelsey-Jae en Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue is dié diens ontbied nadat vyf persone deur die see meegesleur is en vermoedelik verdrink het. Twee van die drenkelinge was reeds aan land gebring. Een is op die toneel dood verklaar en die ander in ’n stabiele toestand onder mediese toesig. Die soektog na die oorblywende drie vermistes duur voort.
Lewensredders en reddingsdienste het onmiddellik ingespring, terwyl mediese personeel en nooddienste by die strand gereed staan om enige slagoffers te behandel. IPSS sê dat verdere opdaterings gegee sal word namate meer inligting beskikbaar is.
Craig Lambinon van die NSRI sê twee mans is dood en twee ander vermis nadat hulle naby die getypoel in die nood beland het. Alle rolspelers is ná 18:00 ontbied nadat aanvanklik gerapporteer is dat minstens drie mense in die water in gevaar verkeer het. Later is vasgestel dat minstens vyf persone in sterk skeurstrome vasgekeer was.
Alert-lewensredders het drie mense uit die water gered. ’n Man (21) is deur paramedici dood verklaar, terwyl ’n jong volwasse man en ’n vrou, beide 19 jaar oud, ongedeerd was. Omstreeks 21:30 is nog ‘n 21-jarige man deur die polisie in die omgewing aangetref en dood verklaar. Lambinon bevestig twee mans, albei vermoedelik 21 jaar oud, word steeds vermis.
Die liggame van die oorledenes is aan die polisie en die departement van gesondheid se forensiese patologie-dienste oorhandig. Geregtelike doodsondersoeke is geopen en soekoperasies duur voort.





