Appel, oftewel Christoph Kotze, se lewendige nuwe enkelsnit, genaamd Klomp Keer Lekker is net betyds om jouself hierdie naweek warm te dans.
Die video-storie begin met die gewilde Janey en Waney en ‘n troupaar wat in Stoetbul, ‘n gewilde kuierplek in Pretoria, vir ‘n troue beland. Dit is ‘n troue, is dit nie? Een ding is seker – die troukoek aan die einde is vindingryk. In verwagte Appel-styl steek die lirieke en ritme dadelik in jou kop vas.
Fanie Nel van Coleske Group sê Appel se nuwe enkelsnit waai soos ’n vars briesie: “Soos die lente met ’n vars briesie inkom, bring Appel met sy nuutste enkelsnit ’n vars klankervaring vir oud en jonk. Hierdie vrolike liedjie, geskryf om jou dag en veral jou naweek stukke beter te maak, weerspieël Appel se kenmerkende styl en treffende lirieke.”
Nel sê geen spesifieke storie was die inspirasie vir die enkelsnit nie, maar herinner volgens Appel aan die tye toe almal jonk en verlief was. Dié snit delf diep in die siel van jong liefde. “Dit beteken vir my dat ek die voorreg het om weer nuwe musiek uit te bring, te leef, kreatief te wees, en dit is vir my genoeg,” voeg Appel by.
Die storie van die liedjie is van ‘n jong paartjie wat hul eie pad stap en nie omgee oor wat die wêreld van hulle mag dink nie.
“Hulle is vir mekaar genoeg, ken mekaar deur en deur, en dit is al wat saak maak,” sê Appel.
Nel sê: “Appel hoop dat, as dit die Here se wil is, die liedjie met ope arms deur luisteraars ontvang sal
word.”
“Solank my musiek mense gelukkig maak, laat lag, laat verlang, en net vir ’n uur of twee hulle menswees laat waardeer, dan het ek geslaag,” sê Appel oor die impak wat hy met sy musiek wil maak.
Die musiekvideo is deur Conrad Theron van Atlas Media by Stoetbul en Shokrun verfilm.
“Klomp Keer Lekker sal beslis elke speellys ophelder,” sluit Nel af.
Luister na Klomp Keer Lekker hier of kyk na die musiekvideo.