WES-KAAP. – Lyle Thomas, ‘n Kaapstadse wetstoepasser, word as ‘n held onthou, nadat hy verlede jaar terwyl hy van diens af was op ‘n ongelukstoneel hulp aangebied en daar gesterf het. Sy babadogter is pas gebore en geskenke is aan haar ma oorhandig.
JP Smith, DA-politikus en Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê Thomas het in Desember op ’n ongelukstoneel afgekom en getrou aan sy roeping hulp verleen. Hy is egter tragies op die toneel dood toe hy deur ’n vermoedelike dronk bestuurder raakgery is.
Smith sê Thomas het sy familie agtergelaat, insluitend ’n babadogtertjie wat hy nooit die kans gehad het om te ontmoet nie. Hy sê die stad se veiligheid- en sekuriteitsdirektoraat funksioneer soos ‘n hegte familie en het saamgespan om baba Paisley in die wêreld te verwelkom.
Volgens Smith het hy die familie saam met Thomas se bevelvoerders en lede van die portefeuljekomitee besoek om hulde te bring en die geboorte van die baba te vier. Hy sê die kind sal eendag trots wees op haar pa en die opoffering wat hy gemaak het, en het beklemtoon dat Thomas nooit vergeet sal word nie.





