Video-opnames en foto’s in berig.
GAUTENG. – Die gemeenskap van East Lynne het Sondag betoog nadat die gebied teen vandag reeds 12 dae sonder elektrisiteit is. Die elektrisiteitsonderbreking is weens ’n brand by die Koedoespoort-substasie, met aanhoudende tegniese probleme wat die herstelwerk verder vertraag. Die gemeenskap het verskeie paaie, insluitend vanaf ‘n tolhek, uit ontevredenheid geblok.
Volgens Cilliers Brink, burgermeesterskandidaat en DA-leier in die Stad Tshwane, asook die voormalige uitvoerende burgemeester, het kragonderbrekings sedert die brand vererger, terwyl pogings om die toevoer te herstel nuwe foute veroorsaak het. Hy sê inwoners is in die duister gelaat, aangesien raadslede nie betroubare tydlyne vir die herstel van krag kan kommunikeer nie. “Kommunikasie het in duie gestort en dit dryf frustrasie en woede in die gemeenskap,” het Brink gesê.
Hy het gesê leierskap en hulpbronne moet dringend gemobiliseer word, insluitend die ontplooiing van meer tegniese spanne, die plasing van bestuur op die terrein en die prioritisering van infrastruktuurherstel. “In ’n krisis kan leierskap nie met vakansie wees nie,” het Brink gesê.
Mari du Plessis sê in ‘n plasing op die East Lynne praat saam Facebook–blad die ontevrede inwoners, oud en jonk, het met kampstoele en waterbottels gekom om hulle ontevredentheid te wys. Sy het gesê daar was selfs ‘n goeie polisieteenwoordigheid en tydelike publieke toilette is opgerig.
Die volgende foto’s is deur Mari du Plessis gedeel.






