KYK: Jong vrou in Kaapstad vertel van aanranding in Uber

Lees ook :

(Foto: Chera-Lee le Roux)

KAAPSTAD. – Chera-Lee le Roux (27) se voorval in ‘n Uber het skokgolwe onder sosialemediagebruikers laat ontstaan.

Le Roux vertel aan Nuusflits sy het omstreeks 21:40 Donderdagaand 14 November in ‘n wit Suzuki-Uber geklim. Sy was onderweg na Groenpunt.

“Die Uber het by ’n verkeerslig in Strandstraat stilgehou. Hoewel die lig groen geword het, het die drywer nie weggetrek nie,” vertel sy. Voordat sy kon verwerk wat besig was om te gebeur, het drie mans hulself by die voertuig ingeforseer – twee op die agtersitplek aan weerskante van Le Roux en een aan die passasierskant voor. Hulle het haar aangeval en haar met ‘n mes teen haar keel vasgehou.

“Die een man het sy hand onder my rok ingesteek en my klere geskeur, wat my blootgestel het,” het Le Roux gesê. Sy sê sy was bang hulle wil haar verkrag. Tot haar skok het die Uber-bestuurder net in stilte bly sit en geen poging aangewend om te help nie. Hy het selfs teruggekyk en vir die aanvallers geknik. Sy sê sy het besef die man werk saam met die mans wat haar aangeval het. Die mans het toe al Le Roux se besittings gevat, insluitend haar, foon, karsleutels en paspoort.

Ná die aanval het die mans uit die voertuig gespring en by nabygeleë trappe opgehardloop. Le Roux, wat diep geskok was, het hulp probeer kry. Sy het uit die kar gespring agter die aanvallers aan. Nog ‘n man het haar gevra wat gebeur het. Sy het verduidelik en dié man gryp toe haar halssnoer, ruk dit van haar nek af en hardloop saam met die drie mans by die trappe op, vertel sy.

Le Roux het teruggehardloop na die Uber. “Ek het die bestuurder gesmeek om my af te laai waar hy oorspronklik moes. Hy het nadat ek hom aanhou smeek het my in Groenpunt afgelaai en my kêrel het opgedaag. Hy het probeer om die Uber-bestuurder te konfronteer en sy bestuurderslisensie gevra. Die bestuurder het egter net sy paspoort gewys en toe weggejaag.”

Le Roux se beserings het hospitaalbehandeling vereis en sy moet traumaberading kry.

Die geval was nie net ‘n roof nie, maar dui ook op ‘n poging tot ontvoering.

Uber het nog nie kommentaar gelewer oor die insident nie en Le Roux dring daarop aan dat strenger beheermaatreëls ingestel moet word om sulke voorvalle in die toekoms te voorkom. Nuusflits het ‘n navraag aan Uber, asook die polisie, gestuur. Die polisie sê die navraag na-ure sal in die oggend beantwoord word. Dit is ‘n ontwikkelende storie.

Hier is foto’s van Le Roux se beserings. Een foto is uitgelaat om Le Roux se privaatheid te beskerm.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief