WES-KAAP – Al vang Eduanne Niemand meer 800 slange per jaar, is dit nie sy eintlike beroep nie. So sê die eienaar van Boland Snake Removals and Pest Controlwat in die Wes-Kaap werksaam is en onlangs na verskeie liggings in die Boland uitgeroep is om veral kobras te verwyder.
By die een geval was daar ’n kobra in ’n drein vasgekeer. Met behulp van water, kon hy die slang na bo lok. Tydens ’n ander geval het hy ’n noodoproep ontvang van ’n benoude inwoner wat ’n hoogs giftige Kaapse Kobra in die motorhuis ontdek het.
Wat kan inwoners doen as voorsorg? Volgens hom moet jy jou onderdeure en lae ruite op veral warm dae toehou. “Veral as dit bo 30°C is, want dan kry die kobras warm en is op soek na koelte,” sê hy.
Inwoners kan ook probeer om oor die algemeen los en droë blare uit hul tuine te verwyder. “Sodoende verseker jy dat muise nie skuilplek in jou tuin kan vind en dan slange lok nie.”
Kaapse Kobras is maar net een van die vele slangvariteite wat in Suid-Afrika voorkom. Hulle is endemies aan die land en wissel in voorkoms van geel tot swart. Hulle gif val die mens se senuweestelsel aan en lei tot respiratoriese ineenstorting.
Eduanne vang gemiddeld drie tot vier slange per dag tussen Wellington, die Paarl en Franschhoek, en laai beeldmateriaal van hierdie slangontmoetings op sy sosialemediabladsye.
Kyk hier:
Bronne: Eduanne Niemand, SANBI, African Snakebite Institute
Bronne: Eduanne Niemand, SANBI, African Snakebite Institute





